News & Events

to satisfy the curious people

ʼn SENSASIONELE SESTAL IS DIE BESTE VERSNYERS IN 31STE JAARLIKSE BLAAUWKLIPEN VERSNITKOMPETISIE

Vir die eerste maal in die 31 jaar geskiedenis van die Blaauwklippen Versnitkompetisie word die glorie gedeel deur ses wynklubs, drie van Pretoria naamlik Wine 101, Baronne Wynklub en die Vaal Ja-Pe Wynproe Groep, asook die Versapper van Centurion, die Weskus Wyngilde van Vredenburg en laaste, maar nie die minste nie, Oude Molen Wynkring van Potchefstroom.

Vanjaar se kompetisie het 99 versnitte gehad wat meegeding het om die titel van beste versnit. Vier internasionale inskrywings is ook ontvang van Asybel in België, Blaauwklippen Wine Friends Heidiland in Switserland, die Portland Classique Wine Guild vanaf Australië, én die Ongava International Wine Tasters van Namibië.

“Met al meer en meer inskrywings wat vanaf die buiteland kom, bevestig ons die gewildheid van hierdie kompetisie en die rol wat dit speel op die kalenders van wynklubs reg oor die wêreld,” het Rolf Zeitvogel, Blaauwklippen keldermeester en sameroeper van die paneel gesê.

“Ons het ʼn reputasie opgebou van ʼn professionele dog praktiese benadering tot wynversnyding. Hierdie kompetisie, die enigste wynkompetisie in Suid-Afrika waar amateur wynklubs die geleentheid gebied word om hul eie versnitwyne te laat beoordeel deur ʼn professionele paneel wyn deskundiges, gee aan diegene wat inskryf ʼn ware blik wat gebeur op ʼn werkende wynplaas wanneer ʼn wen-wynversnit van kommersiële waarde, opgemaak word.”

Vir 2014 is wynklubs gevra om ʼn verbruikersvriendelike, elke dag maklike drinkwyn, dog ʼn vrugtige en moderne rooi versnit te maak wat bestaan uit Cabernet Franc 2012, Malbec 2013, Shiraz 2013 en Zinfandel 2013. ʼn Minimum van drie van die vier basiswyne moes gebruik word in die finale versnit, en Zinfandel en Cabernet Franc moes in beperkte hoeveelhede by die resep ingesluit word.

Nadat die klubs die ideale persentasie van hul versnydingskomponente vasgestel het, is die versnit deur ʼn paneel van kundige wynbeoordelaars geproe om die finaliste te identifiseer. Ses wyne het uitgestaan met presies dieselfde versnit: 30% Zinfandel, 20% Malbec, 15% Cabernet Franc en 35% Shiraz, wat ʼn speelse, dog elegante rooiwyn tot gevolg gehad het.

Die finaliste word bederf met ʼn prettige en insiggewende naweek in die wynlande met die vergunning van die Protea Hotel Stellenbosch, en elke finalis klub sal ʼn persoonlike besoek en eksklusiewe wynproe aangebied deur Rolf Zeitvogel, Blaauwklippen Besturende Direkteur en keldermeester, ontvang. Ander pryse sluit wyn van Blaauwklippen in asook glasware van Vitria, wat aan boord is as borg van hierdie kompetisie sedert sy ontstaan in 1984.

Die ses klubs wat gewen het se rooi versnitwyn sal gebotteleer word onder die Blaauwklippen Barouche-etiket en kommersieel verkoop word. Die etiket vir die wenwyn word gebaseer op ʼn kunswerk spesiaal ontwerp deur die bekende Stellenbosch kunstenaar, Frans Groenewald. Al ses wynklubs sal erkenning op die rugetiket ontvang. Die wyn word verkoop in Magnum bottels vanaf uitgesoekte kleinhandel en van die Tasting Room op die plaas teen R120 per bottel.

ʼn Addisionele toekenning, die Nuweling Trofee, is in 2008 deur Blaauwklippen bekendgestel om nuwe inskrywings tot die kompetisie onder wynliefhebbers aan te moedig. Hierdie trofee gaan na die wynklub met die hoogste puntetelling wat nog nooit voorheen deelgeneem het nie. Vanjaar wen Bonza Bay Wines van Oos-Londen hierdie trofee.

Rolf se paneel van beoordelaars vanjaar het bestaan uit Albert Basson (Blaauwklippen wynmaker), Clive Torr (Kaapse Wynmeester en wynmaker), Samarie Smith (wynbeoordelaar en joernalis), Karen Glanfield (wynbeoordelaar en joernalis) en Elona Hesseling (wynbeoordelaar en joernalis).

Share This: